2 Corinthians 12:9 Amplified Bible
9 but He has said to me, “My grace is sufficient for you [My lovingkindness and My mercy are more than enough—always available—regardless of the situation]; for [My] power is being perfected [and is completed and shows itself most effectively] in [your] weakness.” Therefore, I will all the more gladly boast in my weaknesses, so that the power of Christ [may completely enfold me and] may dwell in me.
Augustus is amper weer verby en ek moet erken dat ek elke klein takkie met valk oë dophou vir enige teken van nuwe lewe en die lente wat dalk net-net wil begin.
(Ek weet dit is belangrik om in die oomblik te wees en die winter ook te geniet, maar die vooruitsig van meer as een sonnige dag na mekaar, is iets waarna ek regtig uitsien! )
Dit voel altyd vir my of die Lente ‘n toonbeeld van “meer as genoeg” is. Na die kaal winter pryk die akkerbome hier by ons met ‘n oorvloedige heldergroen blare dos. Oral blom plante en al wat ‘n insek is, ontwaak uit een of ander hibernasie slaap uit. (En ‘n stukkie van my winter-sku persoonlikheid ook...)
In ‘n dokumentêr oor die tropiese reënwoude nou die dag, sien ek ‘n reusagtige boom wat vêr bo die ander bome uit rank en honderde jare oud word. Die boom plant voort - presies net mooi wanneer die tyd daarvoor reg is. (En dit kan jare neem). Hy, en al die ander bome van sy spesie, raak op een slag van hulle soet sade ontslae en hulle stuur al hul helikopter huisies gelyk grond toe. Hierdie oorvloedige reën van sade in die woud, is so baie, dat die diere wat daarvan eet versadig raak en dan ‘n hele klomp laat agterbly om te ontkiem. ‘n Oorlewings strategie wat (letterlik) vrugte afwerp...
Dit het my laat dink aan die keer toe Jesus die brode en die vissies vermeerder het en die skare so versadig was, dat daar 12 mandjies vol oorskiet na die tyd oorgebly het! Dit was seker nie nodig om soveel kos te gee vir ‘n skare , wat ék dink op daardie stadium so honger was dat hulle tevrede sou wees met enige iets, nie? En tog is daar oorvloed.
Of ek dink aan die belofte aan Abraham dat hy geseënd sou wees, sodat hy weer ‘n seën tot ander mense kon wees. Jabes wat die Here gevra het om hom te seën, en toe so voorspoedig was, dat die hele lang geslagsregister skielik onderbreek is, om spesifiek vermelding van hom te maak. Of wat van Salomo? Wat in absolute weelde en prag geleef het. In oorvloed.
Ek wonder of Jesus met ander oë na daardie brood en vissies gekyk het? Omdat Hy geweet het wat dit kon word? Die mense om Hom het ‘n tekort gesien, en Hy – ‘n wonderlike moontlikheid. Net so het Salomo sy tekort aan wysheid gesien, en God het hom kom ontmoet daar waar hy swak was. Abraham kon nie kinders hê nie en toe word hy die vader van baie nasies. Jabes se naam het pyn beteken en God het sy gebed verhoor en hom nie net van pyn bewaar nie, maar geseën in alle opsigte.
Paulus het gevoel dat hy die minste werd van al die Apostels was, en tog skryf hy op die ou end 13 van die 27 boeke in die Nuwe Testament. ‘n Bydrae wat duisende jare later nog steeds mense sou inspireer en bemoedig. Koning Dawid was ‘n skaapwagter, Moses kon nie praat nie, Jakob was ‘n leuenaar, Ragab ‘n prostituut en Maria was ‘n arm tiener... ‘n Tema van die een of ander tekort wat op die ou-end in oorvloedige seën omskep is.
Die gemene delers? Ek dink, in die eerste plek om eerlik te wees oor my swakhede en my tekortkominge. In die tweede plek te weet waar my hulp vandaan kom - om regtig te besef dat my krag by Hom lê. En in die derde plek - om Sy liefde toe te laat om in my hart in te stroom, sodat ek myself deur Sy oë te sien. Want, al die menslike etikette wat om die karakters van die Bybel se nekke gehang is, het niks beteken in die oë van die Een wat verby dit alles gekyk het en ‘n belangrike rolspeler in die storie van die Ewige Koninkryk raakgesien het nie. Wanneer ek besef hoe kosbaar ek vir Hom is, verander dit alles.
God kom, en dit wat vir my na dooie bome lyk, verander Hy deur Sy krag, in lowergroen woude. Hierdie karakters van die Bybel word bome wat honderde (duisende) jare opgeteken sou bly in die geskiedenis omdat die sade van oorvloedige Genade, geval het op die regte tyd.
Sy genade is genoeg om enige situasie te verander. Al is dit net om vir my die krag en deursetting vermoë te gee om daardeur te kom. Hy is sterk wanneer ek swak is.
In my swakheid en tekort is daar meer as genoeg by Hom.
Oorvloed en Lente.
Comments