top of page
Search

Radio Stilte

Updated: Apr 2

John 10: 27 My sheep hear my voice, and I know them, and they follow me. 28 I give them eternal life, and they will never perish, and no one will snatch them out of my hand. 29 My Father, who has given them to me,[1] is greater than all, and no one is able to snatch them out of the Father’s hand. 30 I and the Father are one.


Het dit al ooit met jou gebeur dat jy probeer om by jou gunsteling radio stasie in te skakel, net-net buite die opvangs gebied? Met die frustrasie van wit geraas, skielike vreemde tale wat bo-oor mekaar begin speel en net halwe-herkenbare -liedjies, woorde  en sinne wat so al om die beurt hortend en stotend deurbreek?  


Deesdae gebeur dit seker maar min – veral nou, met al die verskillende digitale platvorms en stromings(?) dienste wat daar beskikbaar is om na radio stasies te luister… Maar radio het bo alle verdenking die tyd-toets deurstaan en is nog steeds met ons.


Ek kan nog goed my ouers se klein swart en silwer radio’tjie onthou wat altyd langs hulle bed gestaan het. Met die silwer knoppie  kon jy die rooi lyntjie op die liniaal van die frekwensie- syfers fyntjies aandraai totdat dit presies op die plek was waar dit helder opgevang het. Met mini millimeters tussen Radio Sonder Grense en Umhlobo Wene.  Om die verstelling seker maar meer akkuraat te maak, was die knop horisontaal aan die een kant soos ‘n rolletjie gare met harde, amper braille knoppies op, sodat dit nie sommer sou gly nie. Later jare het die radio sy  antenna verloor en moes ons die afgebreekte stompie  teen die gietyster bed laat lê om beter op te vang. Die radio het my liefde vir stories aangevuur. Ek het na soveel radio dramas geluister, met die radio op my lessenaar, terwyl ek my laerskool huiswerk gedoen het. Ek kon nie wag vir die boek voorlesings in die oggende  en stories in die middae nie. Goeie herinneringe.


Maar die afgelope tyd voel dit vir my asof my radio se antenna ook afgebreek is. Asof ek net nie lekker ingeskakel is op mý radio stasie nie. Dit wat gewoonlik so helder en duidelik vir my geïnspireer het, is vertroebel deur wit geraas. Onduidelik. Met vreemde stemme uit alle oorde. Gebroke gesprekke wat in my eie gedagtes net nie wil vorm aanneem nie. Die  frustrasie van  soek na net die regte frekwensie, om dan maar op die ou end  op te gee en die stasie ingestel te hou op wat dit ook al wil opvang en speel... My ore moeg geluister na onsamehangendheid en my gedagtes oorvol met insette deur die dag, wat net nie wil ophou nie.


Maar.


Wat ek vergeet het, is dat ek hierdie radio kan afskakel.  Dat ek nie hoef te luister na al die wit geraas en stemme in my kop wat soos ontydige advertensies my wil oortuig dat ek beter en meer moet wees nie. Dat daar iets veel meer bevredigend is as hierdie FM golwe : Ek het ‘n interne stromings diens!


Ja, ek is opgegradeer tot ‘n koordlose  luidspreker. Een, wat net eenvoudig dit wat reeds binne in my is, kan uitsaai. Die enigste toepassing wat ek hoef te aktiveer,  is reeds deel van my oorspronklike intekening. Dit is ‘n bonus funksie  en ek het lewens lank toegang! Die stromings diens? Die Heilige Gees. God se stem. Onverdun. Toeganklik.


“Spasie” is al vereiste wat hierdie toepassing nodig het om behoorlik te funksioneer.  En Stilte. Want dit is nie indringerige geraas nie. Ek mag dalk gedink het dat dit nie werk nie, omdat dit ‘n rukkie neem om te laai. Dit is nie haastig nie, kompeteer nie met ander toepassings nie en kom as Vrede.


Vrede wat doodstil sit om eers die oomblik in te neem, totdat dit saggies begin sing in my hart. Nie altyd met woorde wat ek kan omsit in letters en sinne nie, maar met woorde wat ek herken. Sonder om te lees of te praat is dit amper asof my kop nie hierby betrokke hoef te wees nie.


Dit is net.

Dit is deel van my.

Deel van Hom.

Hy Is.

En ek hoor.


‘n Stil stem. Wat al die geraas uitdryf en klokhelder niks sê nie. Sodat ek verstaan.

Dankie tog. Ek hoef nie verder op te gradeer nie. Hy in my en ek in Hom.

Ek het alles wat ek nodig het.

Sela.



 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page