top of page
Search

Speel-Speel

1 PETRUS 5:7 AFR83

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.


Ek weet nie hoe gereeld jy die N2 na Kaapstad op ‘n naweek gebruik nie, maar ek vermoed die verskynsel is reg oor ons land dieselfde: Op die groen strook langs die snelweg (en informele nedersettings) is daar oral kinders wat sokker speel. Verskillende ouderdomme deurmekaar met allerhande kreatiewe doelhokke  en kantlyne.  Die lang groen strook gras, wat nou en dan deur ‘n vullishoop onderbreek word, is die naaste aan ‘n tuis sokkerveld wat hulle kan kom - en vir die paar minute (of dalk ure) wat hulle saam speel, is hulle sorgeloos. Niks van die armoede en ander sosiale kwessies om hulle, maak dan saak nie. Hulle speel - en dit is al wat in hierdie oomblikke saak maak.


In ons dorp is daar ook op die oomblik ‘n opgewondenheid wat heers. Langs al die hoofroetes is daar helder rooi vlae opgehys. Lamp pale wat soos wafferse soldate die kuiergaste met hul rooi baniere verwelkom in ons dorp. Regop en vrolik. Dit is weer tyd vir die Woordfees en hierdie jaar se tema is juis “Speel”.


Dié woord laat my natuurlik instinktiewelik terug dink aan my kinderjare, en meer sorgvrye dae . Ek onthou hoe ek as kleuter vir ure kon speel met enige versameling gewone voorwerpe. Of dit nou knope of spelde of Smarties was, ‘n groepie van dieselfde items het dadelik in ‘n gemeenskap met karakters verander. Elkeen met sy eie persoonlikheid wat ‘n rol gehad het om te speel in my storie. Hierdie stories het ek dan “neergeskryf” met ‘n gekrabbel wat gelyk het soos letters, maar natuurlik net vir my sin gemaak het. As ek nou daaraan terug dink glimlag ek onwillekeurig en kom woorde soos: onskuldig, ontspanne en vry, by my op. Woorde en dinge waarvan ek definitief meer in my lewe wil hê!  


Die tema van die woordfees hierdie jaar voel vir my soos ‘n uitnodiging. Om weer te onthou hoe dit gevoel het om sonder enige verwagtinge van ‘n  ”produktiewe” uitkoms, net te speel. Om my gedagtes toe te laat om te verdwaal in ‘n fantasie wêreld en sommer net te wees. Om nie die lewe te ernstig op te neem nie. En te RUS in die vryheid. In ‘n besige dag, waar elke oomblik met iets gevul word, wil ek weer ‘n bietjie skoon- of leë tyd skep in my lewe. Sonder ‘n foon, of ‘n skerm en net SPEEL. Want dit is net in hierdie stiltes en die “skoon bladsy” oomblikke, waar dit regtig moontlik is. Daar waar daar niks anders is om te doen nie. En watter vreemde konsep is dit nie? Niks anders om te doen nie. Wanneer laas was ek regtig so verveeld dat ek iets kreatief uitgedink het om te doen? Sonder dat dit voel soos 'n projek wat moet lei na ‘n ‘goed genoeg’ uitkoms?


Sommer uit nuuskierigheid, het ek bietjie gaan Google oor die belangrikheid van ‘speel’ in volwassenes se lewens en die navorsing is dit eens: “Speel” is van kardinale belang. Daar is ‘n magdom akademiese artikels wat hierdie onderwerp ondersoek.  (*)


Daar is tot ‘n speel instituut ( https://nifplay.org) waar daar heelwat hulpbronne  beskikbaar is om ons weer aan die speel te kry. Jy kan ook gaan kyk wat jou “speel persoonlikheid” is, wat vir my nogal interessant was.  https://nifplay.org/what-is-play/play-personalities


So, speel is belangrik. Vir kinders en vir grootmense - en ek dink die sleutel van speel lê in die sorg vryheid wat dit verteenwoordig. Ek was gelukkig genoeg om in ‘n huishouding groot te word, waar daar aan my basiese en emosionele behoeftes voorsien is: Ek kon ontspan, want ek het volle vertroue gehad in my ouers se sorg. Miskien is dit weer tyd om my Hemelse Vader ten volle te vertrou om vir my te sorg? En al my bekommernisse by Hom te laat? Ek is tog sy KIND.


Dalk is dit die rede waarom Jesus gesê het dat die Koninkryk van die Hemel juis behoort aan kinders of aan mense soos hulle? Kinders wat sorgvry kan wees. Speel. Uitbundig, sonder voorbehoud of oordeel en met oorgawe. Ek dink so! Ek vermoed my Hemelse Vader glimlag breed as Hy sien hoe ek vreugde vind in iets wat geen spesifieke doel dien as om dit net te geniet nie...


Wanneer ek speel, omdat ek weet dat Hy vir my sorg.


Lukas 18:16

Maar Jesus het hulle na hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.


En in die woorde van Charles Schaefer “We are never more fully alive, more completely ourselves, or more deeply engrossed in anything than when we are playing.”


Sela.


*(Proyer, René. (2013). The well-being of playful adults: Adult playfulness, subjective well-being, physical well-being, and the pursuit of enjoyable activities. European Journal of Humour Research. 1. 84-98. 10.5167/uzh-78008.)


*(Magnuson, C. D., & Barnett, L. A. (2013). The Playful Advantage: How Playfulness Enhances Coping with Stress. Leisure Sciences, 35(2), 129–144.




 

94 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page